Die huwelik is seker een van die moeilikste verhoudings waarin mens kan staan. By enige ander verhouding waarin jy betrokke is kan jy die deponeer of onttrek van eenhede uit jou emosionele bank beheer. Hoe doen mens dit? baie eenvoudig indien jy te doen het met iemand wat jou irriteer beweeg jy net weg van daai persoon. Deur dus meer of minder kontak met ‘n persoon te hè beheer jy op ‘n manier die onttrek en deponeer van eenhede in jou emosionele bank. In die huwelik egter word ons saam gegooi in ‘n geslote verhouding en dit is baie moeilik om sommer net weg te beweeg. Indien jou maat iets doen wat jou irriteer gebeur dit oor en oor en daarom is dit so belangrik dat ons mekaar verstaan en wat die klein jakkalsies is wat ons liefde steel sodat ons daaraan kan werk en die irritasie kan wegneem.
Dan is daar natuurlik die twee persone, geer en nemer wat as twee aparte persone in die huwelik voorkom. In gewone verhouding is die persoon eintlik een met ‘n bietjie gee en ‘n bietjie neem in hom. Ongelukkig in die huwelik word die persoon twee wat meeding om die top pos in die huwelik te beklee. Ons is of ‘n geer of nemer en dit is baie gevaarlik. Terwyl jy nog die geer is gaan dit goed maar sodra daai ou die nemer oorneem is dit chaos, hy wil net hê en alles moet net gedoen word om hom te plesier.
Dit is dus belangrik dat ons bewus is daarvan dat die twee persone binne in ons skuil in ons huwelike, en sodra een totaal oordonder sonder balans moet ons die gevaarligte sien aankom en daaraan werk om balans terug te bring.
Wat is die mees prominent by jou die geer of die nemer?
Kort voorbeeld hiervan, julle het dit al almal ervaar waar jou eggenoot basies enigiets kan doen en jy aanvaar dit net. Jy kry opdragte wat jy vir die ander moet doen en jy doen alles maar net ewe geneë. Dit is die geer in aksie, dan op ‘n dag se iets in jou kop vir jou, “maar hoekom moet ek alles doen?” dan steek jy vas soos ‘n donkie en jy is net dwars en omgesukkeld oor alles wat die persoon ou vra om te doen, dis die nemer in aksie.