Om ‘n suksesvolle huwelik te hê is harde werk en ons het beslis nie goed nodig om ons te ondermyn in die werk wat ons insit nie. Ongelukkig is daar ‘n paar goed wat ons self doen om die liefde in ons huwelike te ondermyn, en ons gaan hier kyk na ses van die grootste struikelblokke. Baie van die goed doen ons onwetend en is beslis onbeplan. Ons kan egter indien ons weet wat hierdie goed is daaraan werk en bedag wees daarop wanneer ons dit doen.
Wanner ‘n man ‘n vrou slaan, praat ons van misbruik of mishandel in die huwelik, die hartseer is egter misbruik gebeur op baie maniere in die huwelik en die ses emosionele goed waarna ons gaan kyk kan ook indien dit te erg gedoen word geklassifiseer word as misbruik al is daar nie fisiese letsels nie. Misbruik kan dus geklassifiseer word as ‘n doelbewuste poging van een van die lede van ‘n verhouding om die ander ongelukkig te maak. Die motief is gewoonlik om die ander persoon se emosies, opvattinge en opinies te beheer. Ongelukkig sal die persoon wat dit doen dit nie sommer erken nie, al weet hy of sy dit veroorsaak ongelukkigheid glo die persoon dis die regte ding om te doen en tot voordeel van die ander. So persoon sal dan ook sê as die ander een ongelukkig is: “ek het nie bedoel om jou seer te maak nie” of ” moenie sleg voel nie” of ” ek het dit eintlik vir jou beswil gedoen”
Ons gaan in die reeks meer uitbrei oor hoe werk ons emosies, hoe kan ons dit beheer en dan natuurlik na die ses hoof sondebokke wat huwelike vernietig nl: Selfsugtige eise, oneerbiedige oordeel, woede uitbarstings,oneerlikheid,irriterende gewoontes en onafhanklike optrede. Ons gaan dan ook kyk na hoe kan ons saamwerk om hierdie ses te oorkom om sodoende ons huwelike gesonder te maak.